Ballade vir die Reënkind
Op 'n donker wintersdag
toe die winde roerloos waai
en die wolke doelloos swaai
het jy gekom -
soos 'n dief in die nag
het jy gekom,
maar jou motiewe was suiwer -
so suiwer soos die reëndruppels
om jou melkwit ken,
soos die hartseer in jou stem.
En ek het jou ingeneem, my reënkind,
ek het jou in warm komberse toegebind
en jou kans gegee om mens te word
met 'n beker en 'n bord.
Moet nou nie huil,
want ek verlang niks in ruil -
ek bêre jou slegs in die kas
tussen my warm hemp, broek en das;
ek neem jou in uit die wind
en ruil jou vir die somerkind.