Attie Retief / Writing / Poetry

Behoud

Poetry · Afrikaans

Wie het jou vir my behou
Jou hart berei vir my
Wie het jou laat aanhou glo
Plek gehou aan jou sy

Oor soveel jare heen
Wie het jou beskerm
Deur pyn en deur alleen
Wie't oor jou ontferm

Was daar slange oor jou pad
Wie het hul verjaag
Wie het jou laat omloop
Of wie het jou vertraag

Wie het jou gebring
Tot diep hier in my hart
Wie het jou gegee
As vertroosting vir my smart

Wie bewaar jou daagliks
Na jy uitkruip onder my arm
Wie besorg jou terug
Na ons nessie lief en warm

Hoe het dit gebeur
En hoe't ek dit verdien
Wie't geweet ek droom van jou
Wie't so diep in my gesien

Wie ookal dit bestier het
Vir nou en alle tyd
Laat staan my in verwondering
En in ewige dankbaarheid

← All writing