By die See
Ek gaan nie weer strand toe kom nie.
Hier is altyd niemand nie
en tog is daardie iemand, iets,
wat altyd met my praat,
hier by die strand
waarheen ek nie weer sal kom nie.
Ek kom sit sommer hier en dink en peins
oor hoe die lewe my behandel.
Dan voel ek weer rustig -
dan voel ek bedaard.
Hier by die strand
waarheen ek nie weer sal kom nie,
kom sit ek sommer in die sand
en ruik die bosse en die see...
Skielik spoeg die see sy sandvuil water oor my uit.
Verskrik besef ek 'nooit het iemand ooit op my gespoeg nie'.
Die blinkblou watermassa voor my
klink net soos musiek:
die skuimbebaarde branders maak 'n
in en uit gesuis.
Dit laat dink my skielik aan 'n
pragtige simfonie,
maar daar's iets wat nie pluis is nie,
iets wat skort.
'n Skare gil van agter:
"Gaan bespeel jou instrument!"
Stadig staan ek op om die
verhoog te betree.
Ek trek die instrument nader
en speel die eerste noot.
Ek kyk op om die skare se reaksie te kan sien,
maar geen siel is in die saal nie
en ek voel meteens verlore.
Die orkes verlaat my ook
en in my laaste-laaste oomblik
klou ek styf aan die instrument
totdat 'n golf dit van my wegruk...