Gedagtes oor Musiek en Klank
1. Baie droom ek oor klank:
dit verander uit 'n eier, 'n pak meel en bietjie suiker
tot 'n koek van klanke,
maar die mense, oor die koek so mooi is,
wil dit nie eet nie.
2. Waarom nog so baie luister mense na musiek?
Wat is daar te put uit hierdie warboel van geluide?
"Goed vir die gees" en "loutere genot",
maar wat is 'n gees en wat is genot
uit musiek sonder God?
3. Musiek is soos die oggendmis:
terwyl dit daar is, is dit mooi.
Dan verskyn die son bloedrooi
en iets anders word weer mooi.
4. Soms voel ek lus om die berg van musiek te klim en sommer net
daar te sit en kyk hoe die wolke van klank verby sweef en, as
hulle naby genoeg is, vir my 'n klankie te pluk ...
5. Sommer so in die tydjies wat ek met myself sit nonsens praat,
sing ek 'n liedjie van hartseer, geluk, liefde,
teleurstellings - die lewe, maar, siende dat ek nie sy
oorsprong of skepper ken nie, bly dit vir my maar net nog
'n wysie.