Attie Retief / Writing / Poetry

Heroldsbaai

Poetry · Afrikaans

Vandag bevind ek my
By die rusplek van my siel
By die droomplek van my jeug
Die volle draai van die wiel

Hier waar die golwe skuim
Skerp rotse kinders skoei
Kan 'n kalmte ook heers
Rustig deurbreek uit die sproei

Die beskeie Heroldsbaai
Is gekerf uit 'n ruwe kus
Hy het jaar in en jaar uit
My in sy rotsarms gesus

As 'n seergemaakte kind
Het ek vrede hier gevind
En as uitgeworpe seun
Het ek bande hier gebind

Hierdie strandjie het beskeie
Soveel hoop vir my beslis
My laat glo dat daar weldra
Ook 'n sielsmaat vir my is

Maar twintig jaar vergeefs
Wroeg ek terug na hierdie plek
Te veel somers om
Probeer ek dit herontdek

Toe kom jy oor my pad
En gee my nuwe hoop
Toe jy my handjie vat
En op die strand met my gaan loop

Die eenvoud van die see
Hou 'n ewige belofte
Hy sal altyd aanhou gee
In sy kalmste en sy rofste

Jare terug het hierdie branders
My 'n groot ding beloof
En hier staan ons aan die kus
En raak aan mekaar verloof

Die dag toe jy my raaksien
En my behoefte aan die see
Het jy my begin verstaan
En wou ek alles vir jou gee

Ek kon jou opvat na die maan
Ek sou jou toedraai in 'n pels
Maar vandag sou niks kon kom
By wat hierdie strand behels

Die paadjie om die punt
Is uitdagend maar ook mooi
Dit staan as 'n simbool
Vir wat die lewe ons kan gooi

Maar darem glo ek ook
Ons sal altyd ons bevind
Teen die branders van my see
Vir ewig aan mekaar verbind

So hiermee dan my lief
Voor getuies uit my kindsbeen
Vra ek "Sal jy met my trou,
Wees vir ewig vir my die een..."

← All writing