Hierdie huisie
Jou deurtjie was versigtig oop
Toe ek voor haar kom staan
In jou knusheid kyk jy toe
Hoe word sy iemand wat verstaan
Toe 'n sondvloed skielik tref
Dra ek gou jou inhoud droog
Gun jy my die goue kans
Word ek haar belofteboog
Vele dae, telke aand
Bied jou mure my 'n troos
Met haar poppies as getuies
Blom ons liefde soos 'n roos
En die afgelope tyd
Staan jy plegtig soos 'n fort
Help jy ons mekaar te vind
Kyk hoe ons 'n eenheid word
Nou staan ek weer op jou trap
Met my rug op jou gekeer
Moet ek groet vir nuwe dae
Met blydskap, 'n bietjie seer
Na vanaand sê ek vaarwel
Aan die nessie van ons begin
Neem ek afskeid van die eenvoud
En stap 'n wyer wêreld in
Binnekort sal sy ook kom
Word ek haar man en sy my vrou
En al neem sy dan ook afskeid
Sal sy jou ook nooit berou
Wees gegroet my baarmoeder
Hier uit jou is ek nuut gebore
Maar 'n wonderlike voorland
Is vir my en haar beskore
Na vanaand kom ek nie weer
Daar's 'n nuwe perd om op te saal
Dankbaar stap ek van jou weg
Pas haar op tot ek haar kom haal