Attie Retief / Writing / Poetry

Icarus Varié

Poetry · Afrikaans

Vasgekeer staan ek eenkant
tussen mense -
hulle keer my vas
met hul oë, hulle gedagtes.
Hulle forseer my om te wees
wat ek nie is nie.

Deur hul leuens, hulle spot,
hulle afguns, hulle haat
verag hulle my -
verag ek hulle!

En my woede en haat
bou krampagtig voort,
my veragting word
psigopaties groot

en ek gryp hier en daar
'n paar mense dood
en ek ruk hulle lywe
bloedspattig oop.

en ek vleg van hul derms
twee vlerke groot
en ek vlieg
en ek sweef -

die winde van vryheid
dra my hoër
(ook die blydskap van alleen-wees).

Maar die derms word droër
en die vryheidsbloed kook
stoom, stoom
tot die bloed wegrook

en die persrooi are
verkrummel, verskroei en
ek schwies deur die lug
al affer en skerper en
val plassend in die see.

← All writing