In die Konsertsaal
Bien rythmé é con moto
Die crescendo by die aanvang van die stuk,
het geheimsinnig oor die koppe van die skaar,
soos 'n woedende gegolfte aangerol en met 'n vreeslike geknal
van die simbale my geruk.
Die voortstuwende reaksies van akkoorde en dissonansies van
die eerste snel beweging het bedaar.
En oorgegaan in rustiger, adagio rondovorm -
die geheimsin steeds kenmerkend, prominent.
En geleidelik het sekwense, modulasies en mordent
oorgespoel tot die grotesk Cadenza-storm.
Wat gevolg is deur die presto, allegro assegaai
wat deur die saal en teen die mure soos 'n vuurpyl stamp en
draai
en sonder ophou aanhou spin en sonder aanhou ophou sin maak
tot die podium-kabouter dan beduie met gebaar:
"Die Concerto is nou klaar."
Applous ...