Attie Retief / Writing / Poetry

Marta?

Poetry · Afrikaans

Hoor jy my, Marta? Ek is jammer.
Ek het nie bedoel om so lank weg te bly
of jou glad nie te kontak nie.
Ek het maar net vergeet ...
en ek weet dis nie iets waaroor 'n mens vergeetagtig kan wees nie,
maar ek moet met jou eerlik wees -
Jy was nog nooit die belangrikste persoon vir my nie.

En moenie eers probeer stry nie,
want ons albei weet dat ons nooit goed kon klaarkom nie.
Maar dan wil ek bysê dat ek ons kleintyd baie geniet het, hoor.

Ja, ons kleintyd toe ons nog kon hare trek en skop en klap
en, as Ma nie naby was nie, mekaar nogal venynig kon slegsê
en partykeer vloek, maar darem nie vieslik nie, nê.

Of hoe sê ek Marta.

Of praat ek onsin oor ons kleintyd
toe ons gedwing was om mekaar by te kon,
en glo my, dit sou nie so gewees het as jy nie ouer was as ek nie.

Want watter ouer laat 'n groter seun aan 'n kleiner dogter slaan?

Tog het ek altyd die bakleiery gewen, hê,
altyd, nê, Marta?

Behalwe die een keer toe jy my 'n blou oog gegee het
oor daai lekker wat ek by jou gesteel het
wat Ma vir jou gekoop het met die groot "X" op.

Maar buiten dié keer kan ek nie een onthou wat jy gewen het nie.

Jy was nooit 'n sterk bakleier nie,
nooit jou veggees sê ontwikkel soos myne nie
alhoewel jy altyd jou beste gedoen het om te veg waarteen jy
wou veg, nê, Marta?

Tog dink ek dit was onnodig, die ou bakleiery...so onnodig.
Maar dit het ons sterk gemaak,
en daarom kan jy ook nóú veg, Marta,
jy moet regtig hard veg hierteen.

Marta? Wag, Marta, moenie nou gaan nie -
daar's nog iets...
Marta? Marta wag! Nee!
Ek wou nog iets gesê het, Marta?

Ousus!

...Ja...ek het jou nog nooit sussie genoem nie,
weet jy?

Jy was maar nog altyd jy en jou en pampoen vir my,
maar ousus, sussie, ek was lief vir jou

hoor jy my, Marta?

← All writing