Attie Retief / Writing / Poetry

Mooi dag

Poetry · Afrikaans

Die soete giggel uit 'n baba se buik
Die onvertolkbare uitasem na 'n rooiwyn se ruik
Die donderende druis van golwe wat teen die rotse beur
Die strelende note van Beethoven in C kruis mineur

Ek hoor die wêreld opnuut deur jou ore
In elke geluid voel en weer gebore

Die dromerigheid van mis wat oortrek
Die warm geel tonge van 'n vuur wat jou wang lek
Die sprankel van vars dou op 'n fynbos spinnerak
Die asemrowende rooi van die son wat in die see wegsak

Ek sien alle dinge opnuut deur jou oë
En ervaar weer die lewe met dank en genoë

Op hierdie, jou mooi dag, my engel, gee ek dank
Vir liefde, nuwe oë, vir lewe en nuwe klank
Mag die jare jou seën, soos jy vir my
En genade jou vir ewig na my arms teruglei

← All writing