Nagviooltjie
Dis somer...nee, winter...
'n oorgangstydperk,
maar nog nie herfs nie,
want herfs is koud en halfdood
en herfs is geel en bruin en muf -
nee, dis nie herfs nie:
herfs is nie so vars nie,
herfs is nie so helderrooi by skemer nie,
herfs is nie so stil nie
✳ ✳ ✳
Dit is stil...dit raas -
'n rustige geraas
soos van 'n tuimeldroër
wat in die kombuis spin,
soos van 'n kriek
op 'n stil oorgangstydperk-aand.
En as die krieke so raas
is dit nog mooi,
maar dan kom sit één voor my venster
en sy skril nagviooltjie speel hy...
só vroetel-vroetel hy sy beentjies,
vroetel-vroetel tussen al die ander naggoggas,
maar hulle is stil...
Dan spring ek op buitentoe en
op die gras en op die kriek
en...'n leë stilte vul die nag
en bly vir twee seisoene
waarna alles wat dood is
weer groei en bloei
en met God se genade,
soos my kriek,
opstaan en met sy nagviooltjie
vrede gee in my geïrriteerdheid.