Attie Retief / Writing / Poetry

Sewe grepe

Poetry · Afrikaans

Middernagtelike uur
In die kamer waar ek slaap
Neonligte teen die muur
Oë traan van lekker gaap
Oë traan van lekker gaap

My gedagtes swewe rond
Na die mense in my hart
Hoop tog ieder is gesond
Voel meteens intens apart

Op die oomblik op die tyd
Dink 'n enkel een aan my
Ken hul alles wat my spyt
En hoe ek hul slaap beny

Daar die liefde tot my end
Vol verwagting vol van hoop
Is my angstigheid bekend
Watter paadjie gaan ons loop

Daar my moeder daar my pa
Een is olik een is moeg
Sien hul hoeveel ek moes dra
Weet hul hoeveel ek nog wroeg

Daar 'n ousus vreemdeling
Soos 'n hardgebakte peer
Sal sy ooit my lof besing
Gaan sy ooit my storie leer

Daar 'n kleinsus platgevee
Vrou alleen twee blonde kroos
Kan die alles wat ek gee
Ooit my skuldgevoel betroos

Daar my vrou van twintig jaar
Sterk en hard maar klein en seer
Hoop sy sal haar lot aanvaar
Glo sy sal my kroos goed leer

Daar my engeltjies van bo
Redes waarom ek bestaan
Gaan hul eendag my kant glo
Sal hul eindelik verstaan

Middernagtelike uur
Ek voel hulpeloos alleen
Hoe lank gaan ek dit verduur
Is my tyd nog lank geleen

← All writing