Attie Retief / Writing / Poetry

Stadswolf

Poetry · Afrikaans

Die bloed in sy are is blou,
die gloed in sy oë is vuurrooi.
Sy oesterdopkake, sy diamanttand
en sy liggaam fors en sterk en mooi
beteuel hy wyl hy in sy groep beweeg
ter wille van homself,
ter wille van homself.

Hy en die trop waaraan hy behoort
eet slegs van die beste karkas,
leef slegs in die beste grotte,
kyk slegs die beste gevegte
en het sterk vriende in die regte troppe
ter wille van hulself,
ter wille van hulself.

Maar diep in sy bloubloedpomper
pomp die gevoel om te individualiseer,
om sy grot af te brand,
om sy vriende te los
en oorskiet te eet
ten koste van homself,
ter wille van ander.

← All writing